Vrydag 11 Mei 2018

KOM ONS DANS!

             Man, ek is vanaand lus vir sing en dans – al in die rondte wil ek tol en draai en swaai. Ek dog toe eers ek wil Duitswes Wals doen, maar nee, dit gaan oor oorlog en allerhande goeters waaraan ek nie vanaand wil dink nie. Ek wil dans op ‘n lied wat my net nog meer lus maak vir dans. Maar ja, ek sou graag daardie rooi rok wou dra as ek so dans...
            Nou wil jy van my weet hoekom ek so wil dans? Ja, ek hoor jou, jy dink by jouself die vrou sukkel soms om lekker geloop te kry en nou wil sy dans. Ja man, ek wil dans oor my hart lus voel vir dans. Jy weet mos, jy het ook al so gevoel. Jy voel so ‘n ‘dansgevoel’ hier diep in jou hart en jy weet dat niks, maar niks dit gaan wegvat voor jy nie ‘n lekker riel gegooi het nie. Mmm, selfs al is dit net so ‘n vinnige enetjie al om die tafel.
            Nou peuter jy nog altyd met my oor hoekom ek so danserig voel. Goed, hier kom hy dan nou.
            Jy sien, ‘n mens kan jou mos baie dinge verbeel. Jy verbeel jou dinge en later glo jy dit en nog later verkondig jy dit vir die waarheid. Ken jy daardie gevoel? Dis nou presies ek daai. Vir jare en jare het ek ‘n vrag gedra wat glad nie aan my behoort het nie en nou’s die vrag afgegooi en my lyf voel soos dans.
            Nou vanaand wil ek tog nie weer ‘n keer in die treurgesange gaan rondblaai nie. Ek gaan jou dus nie vertel waaroor dit alles gegaan het nie, want vanaand wil ek dans, nie tjank nie. Al wat ek vir jou kan vertel is dat ek vanaand so beautiful voel en so lig soos 'n veertjie. Ek is so wraggies vanaand lus vir dans, man! Dans jy saam?

Ek wil net vir jou vra om saam met my op oom Japie se Ou Waenhuis ‘n lekker riel te slaan so al om die tafel. En as jy moeg is en die musiek hou nog aan, sit dan maar en tik met die voetjie tot alles oor en verby is. En dan, liewe mens, wees saam met my bly dat ons vanaand ‘n lekker riel kon dans net sommer omdat dit lekker is om te lewe.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...