Sondag 04 Februarie 2018

KLEIN BRIEFIES

Ek wil vir jou ‘n briefie skryf. Nie ‘n lang, uitgerekte brief nie, hoor. Sommer net ‘n briefie wat ek vir jou wil skryf. Hoekom dan, wil jy weet. Ag, sommer net oor ‘n briefie ‘n briefie is.

Onthou jy die tye toe ons nog briewe geskryf het vir mekaar? Sommer elke dag – jy vir my en ek vir jou. Dit was die hoogtepunt van die dag, hierdie oor en weer skrywery van ons. As ons mekaar raakloop, ruil ons briewe uit. Jy gee jou briefie vir my en my hart klop in my keel. Ek gee my briefie vir jou en ek sien hoe bly is jou oë.

Die brief brand in jou sak, maar jy gaan dit nie lees waar ander naby is nie. Niemand mag dit sien nie en niemand mag dit lees nie. Dit is net joune en joune alleen. Dit is soos jou eie, eie heiligdom wat jy in jou hempsak (op jou hart, of IN jou hart) bewaar teen almal daar buite. Jy loop met hierdie brandende skat in jou sak totdat jy dit nie meer kan uithou nie. Eers dan gaan jy alleen iewers sit en skeur dit stadig oop. Het jy my naam op die koevert geskryf? Het jy, soos gister, ‘n hartjie bo in die hoek geteken?

Dit is soos ‘n lekker soet toffie wat jy in jou hand hou. Selfs die proses om die papier af te haal is ‘n kosbare reis tot daar waar jy uiteindelik die kosbare soet goud in jou mond kan sit. Net so was dit met jou briefies. Elke keer. Elke kosbare keer wat ek jou briefie kon oopmaak en lees. En weer lees. Totdat ek dan môre weer een kry.

Onthou jy nog die heel eerste brief wat jy vir my geskryf het?

Nou wonder ek mos – onthou jy nog ooit vir my? Weet jy nog van die skaam kind wat jy raakgesien het tussen al die ander nuwelinge in die skool? Of het jy al hoeka se hoeka se hoeka van haar vergeet? Nou hoe is dit dan dat ek nog van jou onthou?

Jou eerste brief was kort en so half formeel. Jy wou weet of ek met jou sal kys. Die kinders van vandag weet mos nie meer wat is dit om te kys nie. Hulle glo in ‘gryp en kry klaar’. Of dalkies is daar nog kinders wat glo in kys? Ek sal dit moet sien voordat ek dit glo, hoor. Maar ons het gekys omdat ons wou kys, nie ‘gryp en kry klaar’ nie.

Natuurlik het ek dadelik ja gesê. Nie omdat ek juis met jou gekys wou wees nie, maar sommer net omdat almal graag ‘n boyfriend wil hê. Ek dink nie jy het dit geweet nie, maar ek dink ook nie dit sou jou baie gepla het nie. Baie min dinge het jou eintlik ontstel, ha? Jy was so half in jouself gekeer – glad nie ‘n ‘oeee die lewe is ‘n lied’ soort van mens nie. Vreemd, eintlik. Baie vreemd by tye. Maar dit is juis daardie gesindheid van jou wat my tot die einde toe gefassineer het – eintlik nou nog altyd.

Toe gaan jy weg en word ‘n man en ek bly agter en bly ‘n kind. Die briewe word langer, meer intens. Die alledaagse dingetjies het van minder belang begin geraak. Jy wou meer en meer weet van my. Jy wou meer vertel oor jouself. Jy wou, in die afstand tussen ons, eintlik baie nader aan my kom. Jy was by tye desperaat in jou soeke na wie ek is.

Ek was nie gereed nie. Kind wat ek was, het ek vir jou gelag. Ek het so half wegkruipertjie met jou gespeel. Het jy geweet dat dit ‘n speletjie was of het jy gedink ek is maar so ‘n klein bietjie baie dom? In my onsekerheid het ek gevaarlike speletjies begin speel. Ek het jou uitgelok om meer en meer te sê. En jy het.

Ek het presies geweet wat in jou volgende brief geskryf sou staan. Ek het dit fyn uitgewerk en jy het geval daarvoor. Jy het nie my aanval sien kom nie, want jy het dit nie verwag nie. Sien, jy het nie van die bose heks in die hart van die vaal dogtertjie geweet nie. Die kind het ‘n slinkse hart ontwikkel en jy moes dit ontgeld.

Ek het jou lief, het jy geskryf.

Waarom, o waarom het Eva vir die lis van die slang geval? Of was dit juis haar listigheid wat die slang vatkans gegee het? Wie sal weet, want wie was daar?

My antwoord hierop was kort kragtig en ontsettend wreed. “Lief? Vir my? Ag, jy speel seker net, man.”

Dit was die laaste brief tussen ons twee. Ek het angstig gewag vir nog ‘n brief, maar jy het nie weer geskryf nie. Hoekom sou jy? Ek het my hand oorspeel. Ek was die wrede heks in die mooie feëverhaal. Die nare heks het van haar eie medisyne gekry en sy sou eensaam wees vir die volgende veertig jaar of langer.

Haai, dit klink amper soos die rympie wat ons op skool geleer het:
Martha het haar spieël gebreek en Martha voel so naar.
Want nou gaan sy ongelukkig wees vir bykans veertig jaar.

Net, hierdie is nie ‘n rympie nie en dit gaan nie oor ‘n spieël nie. Hierdie was ‘n man se hart wat versplinter gelê het. Sommer net so met ‘n enkele klein sinnetjie...in ‘n simpel klein briefie.

Het sy haar straf verdien? Ja, sekerlik. Hoe dan nou anders?

Was sy jammer oor haar bose daad? Ja. Die posbus het dan nou leeg gebly.

Sou sy dit kon regstel as sy hard genoeg sou probeer? Nee, nooit nie.

En nou, na alles, wil ek weer vir jou ‘n klein briefie skryf.

Ek wonder waar sal ek jou kry om dit vir jou te gee? Sal ek, soos jare terug, by die hoek van die klas vir jou wag tot jy kom en dit dan half ongemerk in jou hand druk? Of sal ek dit onder die groot klip onder die doringboom sit?

Onthou jy die dag toe die boom water gekry het en my briefie onleesbaar nat was? Ek het op ‘n afstand gestaan en kyk hoe jy sukkel om die velletjie papier oopgevou te kry, maar jy kon nie. Jy moes wag vir die volgende dag vir ‘n klein, klein briefie van my.

Iewers moet ek ‘n manier kry om dit by jou te kry, want sien, ‘n mens skryf tog nie ‘n briefie net sodat niemand dit kan lees nie. Gelees moet hy gelees word!

Wat presies wil ek dan nou, na soveel baie jare, vir jou skryf?

Ek wil vir jou skryf dat ek na jou verlang. En nou kyk jy skuins op na my toe en vra verwonderd: “Verlang? Na my? Ag, jy speel seker, man.”

Ek sal die briefie vir jou gee en aanstap, sonder dat ek een maal omkyk. Ek sal wegstap sonder ‘n briefie van jou af, mos.

En wanneer ek dan alleen is, sal ek weet ek het weereens vir jou gelieg. Hoe kan ek na jou verlang as ek nie eens weet wie jy is nie? Ek ken jou nie eens nie, mensekind.


Maar, jy sien, vir wie anders moet ek dan nou eintlik skryf as ek verlang na ‘n verlore kindwees?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...