Dinsdag 06 Februarie 2018

HASIE, DIE BEHEERVRAAT, LOOP HAAR VAS

Wat is 'n beheervraat? Ek het gaan naslaan en die volgende antwoord gekry:
'n Beheervraat is 'n neerhalende term vir 'n persoon wat poog om te dikteer hoe alles rondom hom gedoen moet word.[1] Die woord is vir die eerste keer in die laat 1960's geformuleer[2] — 'n era toe spanning met beheergevegte geassosieer is by persone wat poog om ander mense se optrede te beïnvloed.[3]
Beheervrate wil tot elke prys in beheer van ’n situasie wees. Hulle is meestal perfeksioniste wat wil hê dat alles nét reg moet wees. Hulle stel gewoonlik nie belang in ander se menings nie, behalwe as daar met die beheervraat saamgestem word. So 'n persoon kan byvoorbeeld vergaderings oorneem, die heel tyd in werknemers se nekke afblaas, of konstant sy lewensgenoot kritiseer en afbreek.
Persone wat hieraan lei voel normaalweg onderliggend angstig en onseker van hulleself. Dit manifesteer as die persoon voel dat hy nie in beheer van sy lewe is nie, en dan oorkompenseer deur alles rondom hom te probeer beheer.
Related image
Hasie is ‘n bekommerde wese. Koning Leeu het ‘n boodskap gestuur dat al die diere van die veld namiddag bymekaar moet kom onder die groot boom langs die waterkuil. Niemand weet presies waaroor die gaan nie, maar Hasie weet dit het met haar te doen.

Die ding het ‘n tydjie terug gebeur. Almal was tevrede en rustig, maar skielik het almal na Hasie begin staar. Eers het sy gemaak of sy dit nie sien nie, maar later, toe dinge te erg begin raak, het sy op ‘n dag met Meerkat gaan gesels.

“Meerkat, kom sit hier voor my. Nee, sit plat en luister na my.” Meerkat vervies haar bloedig, want dis ‘n ou ding van Meerkat om so baasspelerig te wees teenoor almal.

 “Wat is dit met julle almal? Dit voel kompleet vir my julle skinder agterlangs van my.”

Meerkat het ge-hierdiekant en ge-daardiekant, maar later moes sy maar uitkom met die waarheid.

“Jy sien, Meerkat, ons het gehoor dat Boer se vrou ons almal gaan doodmaak.”

Hasie sit ‘n tydjie en dink voordat sy antwoord. “Nou wat het dit met my te doen? Waarom laat julle my skuldig voel oor iets waarvan ek tot nou toe niks geweet het nie?”

Meerkat is nou baie versigtig, want sy het al te doen gekry met Hasie se vurige humeur.

“Hasie, dit is nie dat ons dink jy het ietsie verkeerd gedoen nie, hoor. Dis net...”

Hasie wag nog dat Meerkat klaar praat, toe is Meerkat weg. Daar hang nie eens ‘n stoffie in die lug nie, so vinnig is sy daar weg.

Hasie skud haar kop en stap aan. Daardie Meerkat sal maniere geleer moet word, besluit sy. Sy gaan huis toe en, soos haar gewoonte is, gaan staan sy eers voor die spieël en bewonder haar spierwit stertjie. Sy waai hom so effentjies deur die lug en gooi nog ‘n bietjie wit poeier op. Haar stertjie is haar trots!

Nou skree sy op die kinders omdat die huis so deurmekaar is. Haar man kom ook verby, want sy het hom mos uitdruklik gevra (of gesê?) om die ingang na hulle huisie weer ‘n slag op te vul nie? Genugtig, moet sy altyd met almal sukkel? Waarom het niemand ore nie? Is dit dan net sy wat hou van orde?

Opeens weerklink Leeu se brul deur die bos. Almal weet hulle moet nou vergadering toe gaan, maar Hasie ignoreer die oproep. Sy laat haar nie hiet en gebied nie, selfs ook nie deur Leeu nie. Hy het gesê namiddag, en nou is dit nog nie namiddag nie. Besef hy nie dat al is jy die koning van die diere, jy moet hou by jou tye nie? Sy is besig en het nie nou tyd vir onsinnige vergaderings nie.

Meneer Haas het mooi gepraat en gedreig, maar Hasie gee nie bes nie. Toe Leeu die derde brul gee, gryp Meneer Haas vir vroutjie aan haar pragtige stertjie en sleep haar vergadering toe.

Leeu het nie lus vir baie praat nie. “Hasie, Meneer Boer se vrou soek ‘n poeierkwassie. Jy moet jou stertjie gee dat ons ander veilig kan wees.”

Sy spring regop en vertel vir Leeu presies wat sy van hom en al die ander onopgevoede diere dink. So nooit as te nimmer sal sy haar stertjie afstaan nie. Oor haar dooie liggaam!

Leeu verduidelik mooi vir haar dat hulle almal se lewens in gevaar is. Boer is van plan om almal dood te skiet uit pure frustrasie. Sy vrou kerm dag en nag oor ‘n poeierkwassie en Hasie se stertjie is perfek – so skoon en spierwit! Dit behoort vir haar ‘n groot kompliment te wees, dan nie?

“Nee! Ek sal dit nie doen nie. My stert is my stert en ek deel dit met niemand nie. Net soos my huis my huis is. Die wortelbedding in Boer se tuin is ook myne, julle dink verniet ek het nog nooit gesien hoe steel julle my wortels daar nie. As julle dit net netjies sal los agterna, maar moenie glo nie! Sowat van chaos... Ek hou van orde en dissipline, maar dit lyk my iemand van julle kan dit in julle koppe kry nie.”

Nou val sy sommer vir Koning Leeu ook aan. “Wat het geword van jou beplanning? Waarom moet ons op die hitte van die dag hier kom staan en vergadering hou? Geen dier met selfrespek laat hom so mors nie! Kry ‘n slag jou dinge reg, dan sal dit ook beter met ons almal gaan.”

Die hele skare is doodstil. Leeu is woedend. Hierdie beheervraat van ‘n Haas het nou een te ver gegaan.

Met een wink van sy poot staan twee vlakvarke weerskante van Hasie. Sy wil haar nog vervies vir die twee se stank, toe is alles oor. Met ‘n vinnige kap van die groot voortande lê Hasie se stertjie eenkant.

Almal juig en skree, want hulle is nou veilig.

En Hasie? Sy is verwond – die ego meer as die lyfie waar die stertjie afgekap is. Om te dink dat niemand kan sien sy is ver beter as hulle almal nie. Wat ‘n vernedering!
------------------------------------------------------------------------------------------------------------


KYK GERUS OF JY OOK ‘N BEHEERVRAAT SOOS ONSE HASIE IS.

Beantwoord hierdie vrae om te kyk hoe oop jy vir oorgee is:
1. Ek erken dat ek nie alles kan beheer nie.
MEESTAL WAAR         |           MEESTAL ONWAAR
 2. Nadat ek my bes gedoen het om iets te laat gebeur aanvaar ek die uitkoms sonder ’n stryd.
MEESTAL WAAR         |           MEESTAL ONWAAR
3. Ek is in staat om liefde te gee en te ontvang.
MEESTAL WAAR         |           MEESTAL ONWAAR
4. Ek voel suksesvol afgesien van my werk of bankrekening.
MEESTAL WAAR         |           MEESTAL ONWAAR
5. Ek is fisiek aktief, want dit voel goed en ek wil gesond bly.
MEESTAL WAAR         |           MEESTAL ONWAAR
6. Ek gebruik my intuïsie om my moeilike besluite te help neem.
MEESTAL WAAR         |           MEESTAL ONWAAR
7. Ek laat myself pyn en hartseer ervaar sonder om my gevoelens te onderdruk.
MEESTAL WAAR         |           MEESTAL ONWAAR
8. Ek kan erken wanneer ek verkeerd is.
MEESTAL WAAR         |           MEESTAL ONWAAR

Wat jou antwoorde beteken:
Om jou telling te kry, tel die kere wat jy “meestal waar” geantwoord het bymekaar.
7-8 = Jy het algehele vertroue in jou intuïsie.
4-6 = Jy vertrou oor die algemeen dat dinge uiteindelik sal uitwerk.
3 of minder = Jy sukkel om beheer van situasies oor te gee.
0 = Jy vind dit baie moeilik om beheer op te gee.



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...