Vrydag 02 Februarie 2018

DIE DING MET MAANDAG

Wat is dit met ‘n Maandag dat ‘n mens nooit lus is vir hom nie? Ons het mos al gesê dat dit al hier teen Sondagnamiddag se kant begin en dat hy dan sommer nou aanhou en aanhou in al sy glorie.

Sondagaand gaan jy sit en beplan. So wraggies, dat ‘n mens in jou eie huis ‘n program moet optrek om deur ‘n dag te kan kom. Dit grens mos aan moord, man!

Jou man is lus vir buite op die stoep sit en ‘n ietsie saam met jou drink. Jy is kortgeblaker en pleinweg ongeskik, want jy moet beplan vir die dag van môre. Kan hy nie verstaan wat jy vir hom se nie? Maar dan, mans is mos maar mans! Maar moet nou net nie vir hom vra om jou te help met iets as hy die slag besig is nie, hoor! O nee, dan kry jy dit gou-gou in oorvloed – dit is nou die preek van ‘kan jy nie sien ek is besig nie’.

Jy worstel deur die Sondagnag. Hoeveel maal het jy al besluit om nie Sondag na ete te gaan lê nie, maar nee, hoor is min. Elke Sondag is dit dieselfde storie van ek gaan net so ‘n klein bietjie skuins lê, ek belowe ek gaan nie slaap nie. Hmmm, famous last words, suster.
Vroegoggend is jy op en aan die gang. Die ontbyt is maar skrapserig, want jy het regtig nie vanoggend tyd vir goedjies nie. Manlief kyk jou skeef aan toe jy die bord met ‘frensh toast’ en worsies voor hom neersit. Sy oë vra wragtag vir jou waar is die pap, maar uit sy mond uit kom nie ‘n geluid nie. Hy weet! Hy is nog besig om te eet, maar die skottelgoed wag vir niemand nie. Jy was dat die skuimbolle staan, want jy is haastig, sien.

Liewe genugtig! Waar kom al hierdie wasgoed vandaan? Dink die mense van hierdie huis hulle bly in ‘n gastehuis? Wie dink hulle moet al hierdie goed gewas en gestryk kry voordat die son vanaand sak? Dis tyd dat hier beurte gemaak word met die wasgoed. Net vanaand nog gaan daar gepraat word oor hierdie sakie. Sowaar, so kan dit nie aangaan nie.
Namiddag se damestee  soos ‘n berg voor jou. Toe jy die dag belowe het om eetgoedjies te maak het jy mos nie geweet dit sou vandag gaan soos dit gaan in hierdie huis nie. Meel, botter, eiersss... Ag nee, man. Die laaste eiers het vanoggend saam met die brood ontbyt geraak. Waarom kon jy nie onthou dat jy moes eiers koop nie? Nou sal jy sowaar moet aantrek en dorp toe gaan.
Hang die wasgoed op die draad. Vee die kombuisvloer uit. Maak die bed op. Was die bad. Wat nog? Nee, eers dorp toe vir die eetgoed. Blerrie spulletjie kan hulle eie eetgoed maak as hulle so graag wil eet!

Terwyl jy in die dorp is, gaan jy gou by die kwekery aan vir die plantjies wat jy bestel het. Jy vergeet skoon van die tyd, want by ‘n mooi plant kan jy nie verbyloop nie.

Dis toe jy in die motor klim, dat die foon lui. ‘Haai, vrou, het jy van jou afspraak vergeet? Ons moet mos sny en perm vandag, ha?’ As dit nie was vir jou goeie opvoeding nie, het jy die haarkapster sowaar nou ‘n ding of twee vertel. Kan sy nie weet dat jy sowaar nie vandag tyd het nie?

Toe jy uiteindelik by die huis kom, is manlief al terug van die werk af. Die kombuis lyk nog net soos hy vanoggend gelyk het. Die bestanddele vir die eetgoed is op die toonbank uitgepak, maar nooit gebruik nie. Die wasgoed wapper geduldig op die draad. Gelukkig het die winkel lekker goedjies gehad wat jy gekoop het vir die damestee.

Die damestee? Goeie genugtig, hulle het al ‘n halfuur gelede begin en jy het dit gemis.
Jy voel asof jy deur ‘n storm is vandag. Waarom dan? Jy het jou mos nou regtig nie dood gewerk nie, ha? Of is dit bloot maar net omdat sy naam Maandag is?


Opeens ontspan jy en ‘n stoute liggie gaan iewers in jou kop aan. ‘Liefie, kyk wat het ek vir ons twee gekoop vir koffie na die ete. Lyk dit nie ook vir jou baie lekker nie?’

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...