Sondag, 20 Mei 2018

DIE BLOEDROOI BLOM VAN HEIMWEE


Heimatlos sind viele auf der Welt,
heimatlos und einsam wie ich.
Überall verdiene ich mein Geld,
doch es wartet keiner auf mich.
Keine Freunde, keine Liebe,
keiner denkt an mich das ganze Jahr.
Keine Freunde, keine Liebe,
wie es früher, früher einmal war.
Hoffnungslos ist keiner auf der Welt.
Einmal kommt für jeden die Zeit.
Und ich weiß, ich weiß das Schicksal hält
auch für mich noch einmal bereit:

Ein paar Freunde, eine Liebe,
daran denke ich das ganze Jahr.
Ein paar Freunde, eine Liebe,
wie es früher, früher einmal war.

Vry vertaal in Afrikaans: Baie is haweloos in die wêreld, haweloos en eensaam soos ek. Oral verdien ek my geld, maar niemand wag vir my nie. Geen vriende, geen liefde nie, niemand dink aan my die hele jaar nie.

Nou vra jy my waarom op aarde ek nou juis vanaand na onse Freddy sit en luister. Die antwoord is baie eenvoudig: ek het heimwee. Ek verlang na jou en die en daai en (hoe lui die lawwe spreekwoord?) almal wat ek nie eens ken nie.

Ken jy daardie vae gevoel wat so vat, vat, vat aan jou hartsnare? Daardie gevoel wat jy net nie aan ‘n ander mens kan verduidelik nie, want hoe skryf jy nou eintlik in woorde wat in jou siel aan die gebeur is? Hoe laat jy iemand anders voel hoe voel jou hart? Of hoe klop jou hart nie? Want soms voel dit mos kompleet of jou binneste doodstil gaan staan het. Dis soos ‘n waterpoel waarin een enkele vuurrooi blom dryf. En daardie blom het baie, baie name.

Ek sien jy knik. Jy hoor my hart. Jy voel ook (soms) so. Ja? Ek is bly as jy my hart vanaand hoor, want regtig, vanaand het ek nodig dat iemand my hoor. Hoekom? Maar ek sê jou dan nou daar dryf ‘n bloedrooi blom in my hart. En vanaand is blom se naam Heimwee.

Die blom het eintlik baie name. Verlang. Heimwee. Trots. Vreugde. Nee, nooit kan sy naam Woede wees nie, hoor. Dis ‘n blom van ‘n ander kleur daardie een.

Wanneer jy voor hierdie rooi blom te staan kom, het jy ‘n keuse. Jy moet (baie) gou omdraai en loop, of jy moet bereid wees om tyd saam met Blom te spandeer. Want, jy sien, Blom is suinig en so soort van jaloers ook nog. Jy kan nie net so effentjies loer na Blom en dan besluit om te loop nie. O nee, dit werk glad nie so nie.

Ek weet nie hoe jy dit ervaar nie, maar as ek so vir Blom staan en bekyk, kan ek later in my hart die mooi onthoudinge so half blaai soos jy deur ‘n foto-album blaai. Die vriendelike glimlag van ‘n ver vriendin. Die sagte aanraking van jou liefie wat lankal nie meer saam met ons op aarde is nie. Die trotse knik van ‘n kop van wie weet wie. Soms selfs die reuk van 'n geliefde.

Maar eintlik is dit nie soseer beelde nie, dit gaan oor emosies – oor liefde en vrede en tevredenheid. Daardie snoesige nabyheid van iemand. Dalk was dit vir ‘n oomblik. Dalk was dit ‘n lewe lank. Dit maak nie saak nie. Tyd speel in elk geval glad nie in die hart ‘n rol nie, het jy al agtergekom? Tyd is iets vir die kop, vir die harde werklikheid. In die hart is daar ‘n ‘vir altyd en altyd’ soort van milieu.

In die hart is liefde vir altyd en altyd. Die oomblik van totale vreugde oor die geboorte van jou kindjie is vir altyd en altyd. Jou hart is jou hart en jy skryf hom nie voor nie. As jy lief is, is jy lief! As jy nou gelukkig is by iemand, kan jy jare en jare van nou af nog altyd daardie gevoel in jou hart vashou soos die bloedrooi blom. Dit is waarom ek verwys het na die foto-album, sien. Jy blaai hom so en dan sit jy weer langs jou mooi vriendin en in jou hart is daardie warm tevredenheid van die saamwees.

En glo my, daardie album se blaaie kan jy nie uitskeur nie, probeer maar soos jy wil. Onthou is onthou is onthou!

Nou vra ek jou, troetel jou rooi blom wanneer jy daar kom. Troetel hom en liefie hom, want dit is waarom ons mens is – ons is so intens geseënd met ‘kan jy nog onthou’.


Heimwee
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Heimwee is 'n Duitse leenwoord (Heimweh), waarmee 'n verlange of weemoed uitgedruk word na die geborgenheid en sekerheid van die bekende.

Donderdag, 17 Mei 2018

JY TOOR MET MY HART, MAN!

Dis laat in die aand en die gedagtes vat weer koers soos hulle lus het. Ek sien iemand is nog wakker en ons praat ‘n woordjie of twee en daar gaat die gedagtes soos wilde perde wat nie gekeer kan word nie...of eintlik wil ‘n mens hulle ook maar nie keer nie, ha?

Hierdie vriendin van my...! Dit vat so bitter min om haar gelukkig te maak. Net 'n woordjie van ondersteuning van my kant af, niks meer nie. Dit is regtig al wat sy nodig het om weer te glimlag. Nie ‘n geskenk of niks nie, hoor. Net ‘n klein woordjie van begrip is nodig om haar weer op te dollie en aan die gang te sit.

My moeder, daarenteen, kon jy omkoop met ‘n lekker stukkie fudge of ‘n toffie. Ja! Toffies was uiteindelik die wenner tussen al die baie lekkertes op die winkelrakke. Op sy tyd was ‘n blokkie sjokolade ook goed, maar die toffie het altyd gewen. So gepraat van sjokolade – kan jy glo dat sy die selfdissipline gehad het om elke dag so wraggies net een blokkie te eet? Ogggg, nee man tog! My kinders het altyd gesê ek eet hom soos ‘n stuk brood – vat hom aan die eenkant vas en werk hom deur tot jy later nog net die vingers kan aflek. Lekker verby! Gits, dit klink nou lekker vulgêr as ek dit nou so sit en praat, ha? Wragtag vulgêr en effens banaal, dink ek.

Nou behalwe met sjokolade, waarmee kan jy my nog bly maak? Sjoe, daar is soveel maniere om my siel te koop, maar ek sal probeer om dit eenvoudig te hou.

 As jy my nou regtig opgewonde wil maak, draai ‘n klein ietsie (ja, sommer 'n ietsie!) toe in mooi papier. Is! Ek jok nie vir jou nie, man. Ek vrek oor ‘n persent – enige persent!

Dit maak sowaar nie so baie saak wat jy in daardie mooi papiertjie (nie 'n sakkie wat gou-gou gekoop is nie, hoor) het nie, dit maak my hart week om te dink dat jy dit vir my spesiaal gaan uitsoek het of gemaak het of wat ookal die geval mag wees. En wat dit nog lekkerder maak, is om te sien watter papier jy uitgekies het vir hierdie persent van my. Ek belowe jou, die adrenalien skiet die hoogtes in en ek is vir die res van die dag op 'n 'high'.
 
Spontane persentjies is die lekkerste ding wat ek kan oorkom. Mmm, ek hoor jy vra my wat is 'n spontane persent dan nou eintlik. Jy sien, dis daardie persentjies wat nog sommer in die winkel se drasak is, want hy is nou gekoop en jy wil hom nou vir my gee, nie eers anderdag nie. Ek is lief daarvoor om dit ook te doen, maar soms wonder ek of almal verstaan hoe kosbaar dit regtig is. Want sien, jy is winkel toe om brood te koop, maar jy kom huis toe met 'n verrassing vir 'n hartsmens van jou. Wat is nou lekkerder as dit?

En asseblief toggie, as ek vir jou ‘n persent gee, moet hom seblief nie daar eenkant neersit om later oop te maak nie. Ek is so opgewonde dat ek hom sommer self ook vir jou sal oopskeur. Jy sien, dit gaan alles vir my oor jou reaksie wanneer jy sien wat ek vir jou gebring het. Jou reaksie is weer vir my ‘n presentjie op sy eie. Jy kry die persent, maar ek kry die mooi glimlag van tevredenheid.

Dieselfde geld vir 'n mooi, opregte kompliment uit 'n onverwagse oord. Iets wat ek nooit ooit sal vergeet nie, was so ‘n uit-die-hart kompliment van ‘n vriendin jare en jare gelede. Ons almal sukkel (soms) om ‘n kompliment te aanvaar, maar daardie een was besonders en so honderd persent op die regte oomblik. Dit was in ‘n tyd wat die swart hond van depressie weer woelig was by my voordeur. Ek het gesukkel om asem te kry, want die gedierte het lekker met my gemors. Ons moes die aand koor gaan oefen en ek het half teen my sin gegaan. Ek het daar opgedaag met ‘n gesig wat boekdele spreek – jy ken mos daardie frons wat niks en niemand van jou gesig kan afgevee kry nie. Dis toe wat hierdie mooi vrou my groet met ‘n ‘Hier kom die vrou met die mooiste glimlag in die dorp!’ Weet jy, ek weet dit was maar net haar manier om my ‘n bietjie beter te laat voel, seker niks meer as dit nie. Maar ja, na al die jare onthou ek dit as die oomblik wat ek opeens die lig weer (so effentjies) deur die donker kon sien skyn. En natuurlik het ek haar beloon met die grootste glimlag wat ek op daardie stadium kon gee.

Nog 'n ding wat ek nooit, ooit sal vergeet nie, is een verjaardag van my. Toe ek vroeg die oggend opstaan (dis in die winter en dus was dit nog stikdonker) is daar by elke ligskakelaar in die huis 'n lekkertjie met 'n piepklein kaartjie vasgeplak. My hart se punt se vreugde se lekkerkry! Sjoe, dit was die lekkerste wat opstaan nog ooit vir my was en ooit sal wees. My oususkind het die moeite gedoen om dit in die middel van die nag vir my (ja, vir my!) te doen. Wat 'n vreugde om sulke mooi liefgoedjies van elkeen van my kinders te kan onthou.
 
Iets wat my telkemale stomslaan, is wanneer ek sukkel met iets en ek hoor onverwags hier langs my: "Kom, ek sal jou gou hiermee help." Dit kan die kleinste dingetjie wees, maar my hart is sulke tye so baie, baie lief vir jou. Bedagsaamheid is maar redelik yl gesaai deesdae, stem jy nie saam nie? 

Eintlik kan jy my siel koop met byna enige ding, jong. Ek hou ongenadiglik baie van alles wat onverwags op my skoot kom beland...behalwe natuurlik moeilikheid! 

En nou wonder ek opeens of ek ooit altyd genoeg dankie sê vir al die liefde wat ek ontvang? Dankie is eintlik so ‘n ou dom woordjie, dink jy nie ook so nie? Ek dink daar moet meer woorde wees om mee te kan dankie sê. As jy iemand bloot uit hoflikheid bedank, is ‘Baie dankie’ vir my voldoende. Maar dan kom jy voor iemand te staan en jy wil uit jou hart uit dankie sê en jy weet opeens nie watter woord om te gebruik nie. Is dit net ek of voel jy ook so? Jy wil mos sulke tyd eintlik so 'n klein deeltjie van jou hart vir daardie liefmens gee, maar al wat jy het is daardie onbeduidende dankie-woordjie.

Nou wil ek maar net vir jou en elkeen van my hartsmense weereens sê, baie dankie dat jy in my lewe is. Dankie dat jy my daaglikse stukkie van groot lekkerte is...ek waardeer jou meer as wat ek ooit kan sê. 





Maandag, 14 Mei 2018

DIE BITTER NASMAAK VAN ONVERGEWENSGESINDHEID


           
             Sy hou al vir jare en jare skool. Haar jongste is alreeds uit die skool uit, dus is sy regtig nie meer ‘n kuiken nie...en ook nie lus vir kuikenkos nie, 'if you catch my drift'.
            Soos in elke ander beroep ook maar, lewer die onderwys van tyd tot tyd sy eie dingetjies op. Gelukkig was nog niks te erg wat nie opgelos kan word nie en eintlik gaan dit (redelik) goed met haar in haar werk. Ja, sy sukkel ook met leerlinge wat nie hulle werk doen nie en sulke onbenullighede, maar dit is nie iets om oor huis toe te skryf nie, is dit?

            Waar so ‘n klomp kinders bymekaar is soos in ‘n hoërskool, kan jy ook verwag om letterlik een van elke soort verteenwoordig te hê – die wat baie hard werk, die wat soms werk en die wat glad nie werk nie. En dan, net soms, is daar mos die’tjies wat nie werk nie omdat die laste van die lewe soos berge op hulle skouers lê. Ongelukkig gaan soek hulle dan baie dikwels hulle troos by die onnoemlike en ontoelaatbare dinge – wat dan uiteindelik die probleme maar net nog meer en meer maak, is dit nie?

            Sy staan in die kantoor met hierdie jong seun. Hy is reeds ‘n senior leerling,  maar het nog so effens die lyfie van ‘n jonger kind. Dit is net wanneer jy in hierdie kind se oë kyk wat jy besef dat hy lankal nie meer ‘n kind is nie. Die haat vir en weersin in die lewe brand soos vlamme in die jong seun se oë.

            Waarom hulle (vir die honderdste maal) in die kantoor is, is nie hier ter sake nie. Wat uitstaan daardie dag, is dat dit byna uitloop op ‘n magstryd tussen die jongman en die volwasse vrou. Hulle meet mekaar. Hulle daag mekaar uit. Hulle gooi die woorde soos tennisballe heen en weer. Nie een is bereid om te swig voor die uitdaging van die ander nie.

            En toe. Uiteindelik. Die jongman vou. Opeens is die bravade weg en in die plek daarvan staan ‘n ou klein lyfie wat stokstyf staan, maar die trane stroom uit sy oë. Die vrou, ook ‘n ma, kry hom opeens so jammer. Sy kon nog nooit iemand sien huil en nie jammer voel nie. (Tussen alles deur is die skoolhoof ‘n stille toehoorder)

            Sy tree vorentoe en reik uit na die kind. Sy vee sy trane af met die agterkant van haar hand terwyl sy vra: ‘Waarom is jy dan tog so baie hartseer?’

            Die opstand is onmiddellik terug. Die oë verhard en tussen geklemde kake antwoord hy haar: ‘Staan asseblief terug van my af.’

            Geskok tree sy terug...en vergeet van die voorval.

            Mettertyd besef sy en almal dat daar eintlik geen salf te smeer is aan hierdie jongman met die opstandige hart nie. Dinge wil maar net nie normaliseer nie, want, soos reeds genoem, daar was onnoembare dinge iewers aan die gang – dinge wat hom vasgehou het en in ‘n sekere sin seker beheer het.

            Op ‘n dag sit hierdie vrou met ‘n kollega en gesels. Die seun met die opstand in sy hart kom ter sprake. Die kollega merk op: ‘Haai siestog ja, en nou word hy mos nog deur ‘n onderwyseres gemolesteer ook.’

            Dit het nie veel verbeelding gevat om te weet wie hierdie bose onderwyseres kon wees nie. Daardie woorde van die jongman: ‘Staan asseblief terug van my af,’ het soos ‘n trompet weerklink in haar ore.

            Dit daar gelaat...!

            Jare later loop hierdie twee mekaar weer raak in ‘n winkel. Hy kom staan reg voor haar in die nou gangetjie in ‘n winkel. Sy kan nêrens heen nie, behalwe as sy bo-oor hom wil loop. Hy groet. Sy groet nie. Sy staar dwarsdeur daardie ek-is-jammer-oë.
Sy is hard soos ‘n klip. Sy wil hom nooit weer sien nie. Sy wil nie met hom praat nie. Sy wil hom uit haar lewe uit hê vir altyd en altyd. As sy kon, het sy hom soos ‘n muskiet met die duim verpletter teen die muur.
             Vandag weerklink sy woorde in haar ore en sy wens sy kon hom nou weer sien om, na alles, dinge tog maar reg te maak. Want, jy sien, wie is ek en jy en wie almal dat ons daarop roem dat ons nooit sal of wil vergewe nie? Verwag ons dan nie maar almal vergifnis van iemand anders op ‘n daaglikse basis nie?

            Sy haar weer sy woorde en sy sien sy pleitende oë: ‘Juffrou, hoe kan ek dit regmaak, asseblief, Juffrou?’

            En sy hoor haar eie harde woorde: ‘Hoe wil jy dit regmaak? Waar wil jy vandag al daardie mense kry vir wie jy dit vertel het?’ voordat sy botweg omdraai en uit sy lewe uit loop.

Saterdag, 12 Mei 2018

MY MA IS 'N BLOM

As jy moes sê, watter blom is jou mamma? Dink ‘n bietjie daaraan hoeveel soorte blomme kry ons op aarde en dan weet jy waarom jou mamma nie noodwendig soos jou beste maatjie se mamma is nie. Daardie tannie is altyd die een wat regstaan met die toebroodjies en ‘n drinkdingetjie wanneer dit die nodigste is. Jy het al gewens jou mamma wil ook raaksien wanneer ander mense honger is en waarom is sy nie ook so behendig in die kombuis soos tannie die en daai nie?

Ja, ek weet dat ons elkeen ons mamma liewer as lief het, maar soms, net soms, wens ons dat so ‘n klein ietsie aan haar anders kon wees. Stry? Nee, ek weet jy sal nie met my stry nie, want dit is die waarheid.

Dalk is jou mamma die mooiste, mooiste bruidsruiker wat almal na hulle asems laat snak. Sy is mooi, sy is die ideale gasvrou en vervul haar sosiale verpligtinge met soveel grasie dat niemand kan kers vashou by haar nie. Nou waarom verwag jy van haar om iets anders te wees? Waarom verwag jy van haar om jou deurmekaar kamer op te ruim en jou vuil koppies kombuis toe te dra? Waar is jou handjies dan, skattie?
Is jou mamma ‘n rankrosie wat eenvoudig die vermoë het om in almal se harte te kruip? Sy kan nie anders as om met almal te doen te wees en almal met raad en daad te bedien nie. Die rankrosie laat haar mos nie keer waar sy groei nie, en nog minder kan sy help dat almal van haar bewus is as gevolg van haar geur. Hoekom kry jy dan skaam vir haar en dink jy sy is so ‘n klein bietjie te voor op die wa? Hoekom laat jy haar nie maar toe om te rank waar en hoe haar natuur haar dit laat doen nie? Sy kan tog nooit ‘n bruidsruiker wees nie, kan sy?
Is jou mamma ‘n sonneblom wat haar kop elke oggend na die son toe draai? Sy sien niks ooit in niemand verkeerd nie en sy laat die spreekwoordelike son oor almal skyn. Sy staan op met ‘n lied in die hart en sy gaan slaap met dieselfde lied in die hart. Is sy jou mamma? Hoekom hoor ek dat jy al vir haar gesnou het dat sy asseblief tog moet bykom, want die lewe is nie so eenvoudig soos wat sy dit maak nie? ‘Get real, Ma!’ Ha? Het jy dit vir haar gesê? En jy kry nie skaam daaroor nie? Sjoe, wat verwag jy van haar? Moet sy sowaar soos ‘n magrietjie haar blaartjies toevou as die son gaan sak? Ag nee man, dalk is dit tyd dat iemand vir jou ‘n slag moet sê: ‘Kom net asseblief by, man.’
Dalk is jou mamma ‘n hele laning pers jakarandas wat almal geniet en almal bewonder, maar soms ook so effens irriteer met die baie blommetjies wat oral rondlê. Hulle hou in stilte die wag oor elke voetganger wat onder hulle deurloop. Hulle praat nie uit nie en hulle praat ook nooit t nie. Sy is die een by wie almal kom gesels en heel dikwels die een by wie die grootste hartsgeheime uitgestort word. Sy hoor eerste van die nuwe liefde in die dorp, maar ook van die teleurstellings en mislukkings. Nou waarom wil jy ewig hê dat sy haar by haar eie sake moet bemoei? Sy is wie sy moet wees, my liewe mens. Sy kan nie anders nie, want sy weet glad nie hoe om te anders nie. 
Jy sou so graag wou hê jou ma moet ook deftig en ‘in beheer’ wees soos die bure se tannie, hoor ek jou kla. Maar nee, jou mamma is daardie bossie veldblommetjies wat die swerwer die meeste genot verskaf in die natuur. Mmm, ek hoor jy mor: ‘Sy is so gemaak en gelaat staan, man.’ Sies vir jou! Sy is die kroon van die skepping en sy is presies wie sy gemaak is om te wees. As jy ‘n slag van jou troontjie afklim en op die grond gaan lê , sal jy sien hoe volmaak sy gemaak is. 
En dan is daar die lemoenbloeisels. Het jy al in die aand geruik hoe die hele buurt kan ruik na daardie klein ou blommetjies? Jy weet nie eens waar in die buurt daardie boom staan nie, maar die geur is onmiskenbaar die hele lug vol. So ‘n mamma is die een wat jy nooit sien nie, maar jy weet altyd dat sy iewers besig is om haar dingetjies te doen. Sy doen net goed waar sy gaan – sy versprei haar geur soos hierdie klein, wit blommetjies. En jy? ‘Aarde, Ma, bly ‘n slag by die huis en stop kouse of iets. Ma kan nie die wêreld se siekes versorg nie, kan Ma?’
Of dalk is jy vandag ‘n mamma en jy voel so onsigbaar soos die klein, klein klokkieblommetjies. Sjoe, weet jy hoe mooi is jy? En besef jy dat jy presies is wie God beplan het dat jy moet wees? Wees jy maar net vandag die mooiste klokkie wat jy kan wees, dan het jy jou doel gedien.


Vrydag, 11 Mei 2018

KOM ONS DANS!

             Man, ek is vanaand lus vir sing en dans – al in die rondte wil ek tol en draai en swaai. Ek dog toe eers ek wil Duitswes Wals doen, maar nee, dit gaan oor oorlog en allerhande goeters waaraan ek nie vanaand wil dink nie. Ek wil dans op ‘n lied wat my net nog meer lus maak vir dans. Maar ja, ek sou graag daardie rooi rok wou dra as ek so dans...
            Nou wil jy van my weet hoekom ek so wil dans? Ja, ek hoor jou, jy dink by jouself die vrou sukkel soms om lekker geloop te kry en nou wil sy dans. Ja man, ek wil dans oor my hart lus voel vir dans. Jy weet mos, jy het ook al so gevoel. Jy voel so ‘n ‘dansgevoel’ hier diep in jou hart en jy weet dat niks, maar niks dit gaan wegvat voor jy nie ‘n lekker riel gegooi het nie. Mmm, selfs al is dit net so ‘n vinnige enetjie al om die tafel.
            Nou peuter jy nog altyd met my oor hoekom ek so danserig voel. Goed, hier kom hy dan nou.
            Jy sien, ‘n mens kan jou mos baie dinge verbeel. Jy verbeel jou dinge en later glo jy dit en nog later verkondig jy dit vir die waarheid. Ken jy daardie gevoel? Dis nou presies ek daai. Vir jare en jare het ek ‘n vrag gedra wat glad nie aan my behoort het nie en nou’s die vrag afgegooi en my lyf voel soos dans.
            Nou vanaand wil ek tog nie weer ‘n keer in die treurgesange gaan rondblaai nie. Ek gaan jou dus nie vertel waaroor dit alles gegaan het nie, want vanaand wil ek dans, nie tjank nie. Al wat ek vir jou kan vertel is dat ek vanaand so beautiful voel en so lig soos 'n veertjie. Ek is so wraggies vanaand lus vir dans, man! Dans jy saam?

Ek wil net vir jou vra om saam met my op oom Japie se Ou Waenhuis ‘n lekker riel te slaan so al om die tafel. En as jy moeg is en die musiek hou nog aan, sit dan maar en tik met die voetjie tot alles oor en verby is. En dan, liewe mens, wees saam met my bly dat ons vanaand ‘n lekker riel kon dans net sommer omdat dit lekker is om te lewe.

Dinsdag, 08 Mei 2018

DIE HASIES HOU PAARTIE


Image may contain: 15 people, including Marie Schmidt, Martha Poller, Jacoline Visser and Dekker Vermeulen, people smiling, grass, tree, crowd, outdoor and nature

Oompie Haas is ‘n familieman – ‘n man wat glo in sy wortels en waar hy vandaan kom. Wat meer is, hy is ‘n gatgrawer in annerland en hy begin sy mense ernstig verlang. As hy saans in sy eie gat gaan lê, dan hoor en sien hy gesigte en stemme van lank gelede. Hy moet ‘n plan maak dat daar gekuier kan word, sowaar.
Hy gesels met Polla en die twee besluit dat daar ‘n klip in die bos gegooi moet word. Maar dink jy daar kom hase uit daardie bos? Nie eens enetjie nie, hoor, nie eens enetjie nie. Maar jy moet nou nie loop en dink dat Oompie hom steur aan die stilte van daardie bos nie, hoor. As hy besluit het hy wil paartie, dan het hy besluit hy wil paartie!
Die hasies is redelik sku vir die kollig en party van hulle kruip jou wragtie vir die ander weg. Dit is ‘n gestoei en ‘n gespartel om die hasies in die hande te kry en te vra of hulle ook lus voel vir paartie. Party is baie bly – as daar gepaartie moet word, is hulle daar! Ander is minder bly oor die nuus – wat wil julle met my maak? Ek laat nie van my ‘n bespotting tussen ‘n klomp vet hase maak nie, hoor.
Oompie Haas het net een probleem: hy ken nie vir Haasboek nie en dit, so lyk dit vir hom, is waar die meeste hasies (soms) hulle gesigte wys. Nou vra hy ander hasies om rond te loer op Haasboek en sowaar! daar kom nog ‘n hasie of twee te voorskyn.
Gelukkig is daar mos oral ‘n hoofman en sy vroutjie wat dinge kan voorvat en hier is dit toe nie anders nie. Omdat Oompie so ver in annerland is, vat Hoofman en vroutjie die stange vas en loop met hulle. Dinge loop skielik glad en dit lyk of die hasies die paartie van hul ewe gaan hê...
Die gastelys is lank en uiteenlopend...dit hou die dinge interessant, glo Hoofman.
Grootkreef en sy Kleinkreef kom van die see af aangewaai. Hy laat hom nie twee keer nooi vir ‘n lekker paartie nie, sê hy.
Dan is daar Trompet. Jy sien, hierdie haas kan omtrent enige instrument onder die son bespeel – wragtag! ek lieg nie vir jou nie. En kan daai haas sing! Maar Trompet laat hom nie sommer vang vir ‘n paartjie nie, hoor. Hy is ‘n besige man en het nie eintlik tyd of lus vir ‘n geginnegaap op die vlaktes nie. Gelukkig kon onse Oompie tussenbeide tree en hy kom wys toe darem ook gesig.
Häschen und ihr großer Mann waren auch da. Sy het seker gemaak dat hy kom toesig hou oor hierdie klomp boer-hasies uit die suide, hoe dan anders?
Ag, en dan was daar Gracie. Sy het letterlik die wereld gesien en geveg vir volk en vaderland, maar sy het besluit hierdie is een paartie wat sy nie gaan mis nie. Onse Gracie het haarself so stilletjies gate uit geniet, glo ek.
Hoofman en Vroutjie het hulle hande vol om die spulletjie te beheer. Maar een ding weet al die hasies sonder twyfel – wat geskryf is, is geskryf! Hoofman laat nie met hom mors nie en hy skryf om klaar te skryf, hoor.
Nursie en Majoor kom ook paartie. Hulle en Boera-hulle ken van swaarkry. Die hasies in hulle geweste het amper beswyk van sonder water wees, maar deur die genade is dit toe ook opgelos. Boera en sy Boerie sukkel nog ’n bietjie met die nagevolge, maar hulle is vol geloof dat dit eersdaags beter sal gaan daar by hulle haasgat.
 Muskiet daag sowaar ook op. Sy is vreesbevange vir muskiete, dié dat sy toe sommer Muskiet geword het. Kan jy jou dit indink, man! Sy smeer so wrintie die muskietgoed tot op haar mooie hasielippies! Mmm, dis nou wat hulle in Brits sou noem ‘Prevention is better than cure,’ of hoe?
En dan is daar natuurlik die haasmannetjie met die baie hare. Mmm, hy is gepla met almal se hare, hoor. Seker dié dat sy naampie toe later sommer Haartjies geword het. Ek dink hy is ‘n bietjie selfbewus oor die ou naampie, moet dit dus tog nie sommer voor hom noem nie, belowe? Dan het hy nog ‘n ding met ‘gin en tonic’ ook, hoor. G’n haas mag dit glo drink nie...wonder ek nou waarom so? Al wat Oompie gesê het is dat dit goed is teen muskietbyt!
Grootman en sy mooi haasvroutjie het ook kom paartie. Jong, dis nou ‘n haas na elkeen se hart! Slimmer en wakkerder as ‘n prokureur, ek belowe jou. In geen besigheid sal hy toelaat dat daar gekroek word nie – hy is soos ‘n aasvoël op elkeen se spoor! Die enigste een wat hom tot stilstand kon bring, was Hoofman met sy pen en papier. Jy weet mos, man, wat geskryf is, is geskryf! Ek weet net nie waarom hy nie van die Waarheidskommissie gebruik gemaak het nie. Is! Meneer en Mevrou Waarheid was ook daar die hele naweek en hulle kon vir Grootman tog soveel onnodige moeite en verdriet gespaar het as hy maar net geweet het van hulle.
En so gepraat van kroek en kwaad en al daai dinge...Mellies was rustig, maar die Haas wat by haar bly, hý was mos toe die een aand baie opstandig! Wie sal beter weet as Polla en Muskiet? En so gepraat van Polla – sy en Mellies het mos saans al rondom die kamp gestap om te kyk dat daar nie spoke rondloop nie. Mellies was eintlik die rondom-loper van formaat. Sy maak of sy verdwaal, maar intussen is dit om op te tjek of daar nie hasies in die donker gate skuil nie. Uitgevang, Mellies!
Toe kom daar ‘n aardige storie uit.  Haartjie se ou vroutjie was ook by die paartie, maar Haartjies praat ‘n lelike ding. Hy beweer dat hy na al die jare nog altyd gekys is met die fraaie klein hasie daar voor hom. Ons noem nie haar naam nie, want dit kan gevoelens skaad, sien. Ek meen, sy hét ‘n man en als! Sy het net fyntjies geglimlag en liefies by haar eie hasie ingehaak. Wys jou nou net, Haartjies!
Dan was daar nog Asem en sy vroutjie. Hierdie haas gaan mos aan die hol en dan hou hy nooit weer op nie. Ek sê jou, haas se kind het nie ‘n einde nie. En om die kersie op die koek te sit, daag ou Stapper ook nog op! Die twee hase het ons ander onbeweeglike hase skoon skaam laat voel oor ons onbeholpenheid.
Hoor hier, maar waar skrik ou Polla groot toe Spiere haar vertel wanneer sy verjaar. Kan jy dit glo? Na soveel jare het daardie man nog almal en alles in sy kop. Jy vra my waar kom sy naam vandaan? Mens, kyk na die foto’s met die medaljes en trofees en als en jy sal sien dis net die ene spiere. Die dames het liewer nie verder uitgevra nie, want sê nou maar net hy weet van ander mates en lengtes en goetertjies ook? Dit kan gevaarlik raak as ‘n haas so baie kennis opgaar, ek sê jou!
 Ag, en dan was daar nog ou Haasman en sy liefie ook. Dierbare twee hasies wat net die liefde uitleef. Sowaar, nie ‘n harde woord of ‘n skewe kyk na niemand toe nie die hele liewe naweek! Ook glad nie raserig nie, hoor. Gits, daar was hasies wat geen perke geken het nie, maar ons noem nie name nie. Sal Hoofman mos reken sekere hasies het gelag soos ‘n koei wat lekker gemelk word. Haai sies vir jou, Hoofman!
Toe die hasies uiteindelik almal opgedaag het, het die dinge begin gebeur. Hoofman het sy kop tevrede geknik en almal was hoogs in hulle noppies.
Ja, ek weet jy het gedink hierdie is ‘n skinderkoerant, maar ek is jammer – uit my uit kry jy nie ‘n dooie woord nie. Hoe verwag jy nou moet ek die stories oorvertel sonder om myself en wie weet wie almal skade aan te doen?

O, jy’t gewag vir die stories van die stoute hasies in die groot huis laat een nag? Ha-a, ou maat, jy moet maar los. Hier het jy nou vandag ‘n lekker bloutjie geloop. Hierdie haas se mond is toe. Toe soos die kroeg as daai outjie die riete voor die opening getrek het...dan kry jy mos niks verder daar nie.

Donderdag, 03 Mei 2018

INGRID

Denitia deel met ons oor haar verlies van 'n liewe vriendin, Ingrid. 


Die eerste keer wat ek by haar gaan kuier het was vanaf die intrapslag af 'n belewenis.  Die vrou moet siek wees, maar ek loop myself vas in haar blonde bob en ligte blou oë. Sy’t die mooiste goue pêrel-en-diamant oorkrabbertjies aan en ek sien sommer hier sit geld kiertsregop op die kant van ‘n bedjie wat beslis nie in haar smaak val nie, maar sy’s nou hier en daar’s geen ander keuse nie.
‘My goeie daad vir die dag’, reken ek so in my stilligheid – ek moet mos darem punte in die groot boek bymekaar maak vir eendag...
Maar sy’s dan nie vir my sieklik nie. Ja, ek weet siekte het nie altyd ‘n gesig nie, ek sukkel self met dieselfde probleem. Mense verwag om ‘n ou bewende gestalte te sien aansukkel vanweë my Parkinson's, maar dis nie wat hulle sien nie.
"Ek dog dan jy’s siek?" Dit kom gewoonlik eerste en dan die skeptiese uitdrukking as ek sê ja, ek is eintlik siek.
Dit maak my vies. man. Wat dink die mense? Ek bly mos by my huis as dit erg is. Of reken hulle ek moet heeldag ruk en pluk? Dit kos ‘n helse lot inspanning om al my ledemate en varkies op hok te hou net om iemand anders nie aanstoot te wil gee nie.
Maar anyways, so het ek my ook vasgeloop met die blonde, borrelende vrou wie se hartversaking haar gebring het tot hier waar ek nou langs haar bed staan en met verwondering na haar perfek getekende wenkbroue staan en staar. Dis malligheid. Hoe op aarde kan so 'n flambojante mens sterwend wees?
Die geselskap het sommer ook net daar begin en daar was geen keer aan al die stories wat sy met soveel lag en detail vertel het terwyl ek haar bene en voete sit en insmeer het elke middag nie. Hulle was geswel en seer, en van pyn kan jy my niks vertel nie. So, natuurlik het ek aangebied om dit so bietjie te probeer help verlig met die olie se insmeerdery.
Die Duitser was vol nukke, maar ook so vol lewe en liefde vir alles om haar dat sy my sommer opgewonde begin laat voel het oor die lewe. Sy het dit ten volle geniet en haar kleurvolle stories het my sommer weer jonk laat voel. Haar gunsteling een is oor hoe sy op die tafels gedans het voordat haar hart haar begin probleme gee het. Dit was ons doel dan – om haar weer op 'n tafel te kry vir 'n heerlike skaterlag en dansie.
Al wat sy nodig gehad het, is 'n pasaangeër...
Die operasie was om die draai.
As sy nie moes wag vir die operasie nie, het ek haar sowaar nooit ontmoet nie. Ek was dankbaar, want iewers het sy my weer laat glo in pret, in ware liefde en in die groter doel van ons elkeen se lewens. Miskien sal ek nou nie weer op ‘n tafel kan dans soos sy nie, maar ek is hier en ek moet dit geniet.
Die lewe wil geleef wees en Ingrid dans beslis waar sy ookal nou is. Ek wou nog namiddag gaan om haar bene oudergewoonte te gaan insmeer, maar sy was weg...net 'n kol op die vloer waar haar gesig was toe haar dogter haar daar op die vloer kom kry het. 
Sy's weg. Ek het die vloer gewas, want ek dink hulle ’t seker maar net nie kans gesien daarvoor nie. Ingrid sou dit ook sommer net opgevee het as sy nou hier was.
Sy’t dan gesê sy gaan dit nie maak vir die operasie nie en tog was ek so seker sy sou, want hoe oorleef jy ‘n wêreldoorlog, net om hier so skielik op te hou asemhaal? Was sy oud? Nee, sy sal in haar lewe nooit oud wees nie.

Sy's Ingrid.

DIE BLOEDROOI BLOM VAN HEIMWEE

Heimatlos sind viele auf der Welt, heimatlos und einsam wie ich. Überall verdiene ich mein Geld, doch es wartet keiner auf mich. Ke...